In Amstetten beskut ʼn vrou verskrik elk’ retina
teen skerp lig
toe sy na vier en twintig jaar uit die
gat uit vlug
sy talm ʼn oomblik, verwonder haarself
aan stralers se wit strepe hoog teen die gewelf
haas haar dan struikelend
deur die stukkende tuinhek straat-af na
die koue polisiestasie daarna’
om vir die moord op hul kinders haar pa
te gaan aankla
oor more bekommer sy haar nog nie:
elke dag het genoeg aan sy eie kwaad
op ʼn veraf-
geleë plaas in die Vrystaat
skree die hek
benoud
die buurman loop stadig deur na die huis
sien die dorstige stalperd wil vrek
die stukkend’ windpomp draai nie
maar die wind loei deur kaal
populiere
en die boerin lê kaal in die voorportaal
hy kots
sy’s lankal keel-af
oor more bekommer hy hom eers later:
elke dag het genoeg aan sy eie kwaad
sy verlof, sy repliek
en sy huis
lankal deur die kolkwind opgesuig
ry ʼn gespanne polisieman
al weer geroep, al weer uit
êrens
langs die kronkels van die groot Mississippi gestasioneer;
stop
in die modderstraat
nie om die weggespoelde kind te soek nie –
hy verwens die omgekrapte klimaat –
maar om plunderaars te verjaag
gelok deur verspoelde stukkende
winkelvensters vol blink plastiek
oor more bekommer hy hom nog lank nie:
elke dag het genoeg aan sy eie kwaad
in ʼn warm huis in ʼn koue stad
het ʼn ma haar peuters pas gebad
sy soen en sit hul in die bed
en prewel ʼn gebed
want hulle ruik na Johnsons baba-poeier
© Torm 2011 Opgedra aan almal wat stukkend is.