Jy snoes natneus teen my lies
met 'n frommel versie in jou hand,
leepoog gedom in stom vingers
wat lusloos woel tussen ou geykte woorde.
Steek jy die vuur in my hart brand
toe ek sien hoe jy brandstapels bou uit
woordeboekblaaie,
snak toe die sterrehemel in jou oë
opstaan in ligte laaie.
Toe jy trots jou vingerdruk laat
in smaraggroen vinkeveer,
hoor ek die swymel akkoord van 'n
hemelse refrein.
Swel ek teen alle spasies
toe die wonder van taal
oor jou sekelwange stroom.
© 2010 Almarie Truter