sterf sal ek sterf
maar nie voor ek jou in elke porie
ingeënt het nie,
jou verewig, kloon en dupliseer
tot jy jouself
weer en weer in my herhaal
jou DNA vervleg met myne,
verstrengel en knoop
tot jou eksentrieke bloed
deur my are loop,
jou die vloei
van my liggaam leer,
waar my begin eindig
en my einde begin,
jou lei deur gedagtes
en prente in my kop,
die sensasionele paaie
wat jou gegeurde hande oor my
buitelyne loop
sal jou segmente
stuk vir stuk binne my verpak
tot geen laserstraal
onderskeid tussen my gebeente
en joue maak,
tot ek en jy
vry toegang
tot mekaar se lewensare kry,
en as ek jou diep laat teug uit my spleet
se goue graal
beloof ek
om jou naam te vergeet,
daar sal ek jou smee
tot ons ware identiteit geen verskil
kan eien
tussen een of twee
aan my bekken
sal ek jou gord
tot heup op heup
in een skeppingsaksie hergebore word,
my poorte vir jou oop
tot jy my wegwysers van verset
van inhibisie stroop
en as jou saad in my stort
verpak ek dit keurig
vir 'n nageslag
sodat die heelal oor eeue heen
jou deur my oë kan sien lag
sterf sal ek sterf
maar nie voor ek jou in elke porie
ingeënt het nie,
jou verewig,
kloon en dupliseer tot jy jouself
weer en weer in my herhaal
© 2010 Almarie Truter