die somer eindig vroeg en kras
in regerings wat val en dinge wat was;
waar die naam eens hoop en vastheid was
vee aardbewing op bewing Christchurch plat;
in die nanag sak ’n kilheid wat
ek om my voete verwens -
was dit net ʼn mens
of dalk alles, wonder ek
as vlamme aan die soom van die lewe lek
waar ek stilstaan met ʼn fles vol as
herfs is as blare swerf
en op die lui herfsaarde sterf
maar die geel word gou grou in Naudestraat
en skielik voel dit baie laat;
ek verstel horlosies oor en oor
maar êrens voor hierdie vroeë herfs
het ek sleepvoet ʼn seisoen verloor
waar ek deur vergete agterplase swerf
in die stilheid van die winter
klap ʼn skoot: hout wat versplinter
as een boom na ʼn ander
oud en droog word soos klimaat verander;
ʼn blinde Bedoeïen
vertel my ek sal eendag beter sien
maar eers vee ek wasem van die spieël
soos trane wat vorm op my siel
en ek wonder:
was dit wat nou dom is dan eens skrander?
sal die lente nuwe lewe bring?
sal die reënvoël weer viriel
in my tuin kom sing?
sal die son weer versengend brand?
sal liefde nog die trane weg kan soen?
is die newels en die spinnerak
dalk daarteen bestand?
of is hierdie onaardse seisoen
ʼn klip waarom water al hoe wyer kring?
©Torm 2011
in regerings wat val en dinge wat was;
waar die naam eens hoop en vastheid was
vee aardbewing op bewing Christchurch plat;
in die nanag sak ’n kilheid wat
ek om my voete verwens -
was dit net ʼn mens
of dalk alles, wonder ek
as vlamme aan die soom van die lewe lek
waar ek stilstaan met ʼn fles vol as
herfs is as blare swerf
en op die lui herfsaarde sterf
maar die geel word gou grou in Naudestraat
en skielik voel dit baie laat;
ek verstel horlosies oor en oor
maar êrens voor hierdie vroeë herfs
het ek sleepvoet ʼn seisoen verloor
waar ek deur vergete agterplase swerf
in die stilheid van die winter
klap ʼn skoot: hout wat versplinter
as een boom na ʼn ander
oud en droog word soos klimaat verander;
ʼn blinde Bedoeïen
vertel my ek sal eendag beter sien
maar eers vee ek wasem van die spieël
soos trane wat vorm op my siel
en ek wonder:
was dit wat nou dom is dan eens skrander?
sal die lente nuwe lewe bring?
sal die reënvoël weer viriel
in my tuin kom sing?
sal die son weer versengend brand?
sal liefde nog die trane weg kan soen?
is die newels en die spinnerak
dalk daarteen bestand?
of is hierdie onaardse seisoen
ʼn klip waarom water al hoe wyer kring?
©Torm 2011