Jy
jy is meestal veraf soos 'n landskapskildery
wat stof vergaar op bleekwit mure van 'n voorhuis
waar die gordyne slegs namiddag geskrewe word
vir bietjies bietjies lou son om te speel
in donkerkamer ruimtes.
'n Growwe olieverf-palet wat van naderby skok
in kontras en verwronge beelde.
Jy met jou velerlei dimensies en donkerte en diepte.
'n Kritikus sou jou dalk as pop art of 'n
Picasso namaaksel afskryf
maar ek
ek kyk lankal nie meer met my oë nie.
Hoe kan ek, ek wat elke bult en spier en litteken
van jou lyf kan legkaart teen myne ?
Ek kyk met my verwronge idees oor die hemel
en die maan.
Ek kyk na jou en sien Michael Angelo se David,
maar met dodeakker sipresse onder jou arms
en Viking skepe se ankertoue verstrengel om jou enkels;
sien jou wentel tussen purper en swart
in 'n sterrehemel wat ontplof oor nagland,
tussen bottergeel blomme met jou frons,
jou vrae en jou dors na my heuning dye.
Ek sien die sabelgekletter van jou veldslae,
die droë bloed waarmee jou ruïnes gepleister
is en die gebarste plasdam in die voorgrond
waaruit jou drome poeier
dis vir my mooi.
Kyk, ek skrewe die gordyne al vroegmôre
sodat die lou son vandag langer kan baai
in jou donkerkamer ruimtes.
© 2011 Almarie Truter