die Leeu van Luzern het omgekyk,
vir hierdie tydvak gesoutpilaar,
tog bly hy sluimerend, waaksaam
soos Switserse Nasionalisme,
vir als kosbaar om hom en staar
in leeuende majesteit
van reg by die goue affodil tapyt
waar dit groei uit ongeskonde gras,
en al met die helling af binne arms
van lank laas gebruikte stadsmure
deur kunstig versierde stegies,
teen motors en graffiti beskerm,
tot by die water wat Pilatus se voete was
in Luzern
maar Pilatus se hande is lankal skoon
- die tronk is nou ʼn hotel –
die treine dreun nou oor sy rug,
sy statige silwer kop in die oggendmis,
later yswit omlyn deur vliegtuie in vlug,
want die bloed van eeue is lankal gespoel,
in goud en pienk in die Jesuite kerk opgedra
en in tuine onder lieftallige duiwe gekoer
tot sneeuwit gewasde vergifnis
in die Leeu se gebrande katedraal gevoer;
in vuilwit eggo-stilte is dit daar verdra
ter wille van galmende prag en praal
in vertroulike slote onder kegelstene weggevoer
en vreedsaam uitgespoel in die meer
met swane se ewige grasie as enigste verweer
© Torm 2010