Tussen wit wolke en koringare
gooi hoop sy sade
soos nooit tevore deur gedagtes.
Kinders drink en dans
op Bacchus se country
terwyl ander verlore ry deur donker strate
oog op noodlot se middelvinger
en die ewige kruis op heuwels
wat niemand meer sien nie
tog weet almal van die lande
se verlore optogte met posters
groter as die hemel homself.
Vry is ons
met straatligte
wat nie vir my
toekoms brand nie.
Vry is ons
met boemelaars
wat nie tyd kry vir eet nie.
Jy verstaan verkeerd.
Tussen die son en die grond
loop wysheid rond
wat niemand kan vat nie.
Eerbaar met afgekapte hande
gee ouderdom ons rigting
maar niemand wil sien nie.
Jy verstaan verkeerd.
Hierdie is almal se land
van noorde deur die Karoo
praat stemme soos reën
oor velde vaal tot in die diepste see.
Jy verstaan reg
as ek sê hierdie is my mense
ons droom
ons drink
ons dink
ons praat en luister
na Bacchus se country
tot almal weer die kunste sien
en leer om te hoor
hoe die bliksem anderkant die horison roep.