asemsnak varsheid in die nag
in koue lê selfs geheime eers en wag
tot die môre telkens lewensdou bring vir die dag
voordat koning son sy eiendom onsag brandmerk
gevaarlik sag sif tonne suiwer sand
met tyd meedoënloos aan hul kant
langs akute hellings wat oor afstand
saamsmelt in ʼn kompaslose onpeilbaarheid
smiddags smelt die son, lug en sand in een band
doodse stilte - lug spieël die hitte oor die sand -
spinnekop en slang se gerigtheid bo verstand,
want elke warrelspook, korrel, duin en kim lyk verwant
fauna en flora kleiner, slimmer, gekonfyt
waar lewe ʼn nuwe definisie kry:
aanpasbaarheid, saamgesleur of uitgesmyt
met karwrak, spookskip en beendere verslyt
tyd tel teen die moeë reisiger op die sand
wat domastrant wil oorwin, want
elke drie treë opwaarts teen sy rug
betaal die Namib met twee treë moedswillig terug
gerugte van oorloë kom kwalik tot hier
roes tem eens brawe skepe ge-nes in seewier
by ruwe mossel rotse ad hoc neergesmyt,
beveg die rooiste sand die blouste see in epiese stryd
na elke dag se lewenstryd en uniekheid
brand daar oor die kim ʼn meelewendheid:
siftende stof en die see sweer saam met tyd
tot elk’ sonsondergang se majestueuse persiese tapyt
© Torm 2010