FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    Oertyd

    Torm
    Torm


    Location | Ligging : Donker Afrika
    Posts | Bydraes : 260
    Points | Punte : 465
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-16
    Age | Ouderdom : 67

    Oertyd Empty Oertyd

    Post by Torm Wed 26 Oct 2011, 7:57 am

    Sor kyk op na die twee mane wat daar bo in die donkerte van die nag hang. Die ander mense in hulle dorpie, die klompie hutte van riet en klei op die koppie, vind die tweede maan gerusstellend. Nie Sor nie. Iets is nie REG daarmee nie. Die tweede maan pla hom baie.
    “Daar moet twee wees, Sor,” het die wyse ou toordokter altyd gesê, “die een is jou ma, die ander een is jou pa. Hulle kyk as jy slaap.”
    Maar vir Sor is die tweede maan onheilspellend. Wat anders verwag ’n mens dan ook as ’n kind soos hy, skaars twaalf somers oud, geheime dinge in die nag vir sy pa moet doen?
    Die kere wat hulle na die geheime plek daar anderkant die verbode woud gaan, is vir hom lekker. Pa Ia loop dan so langs hom en hulle praat oor die veld en hoe om te jag en hoe dit makliker is om kos te kry van plante as van jag. Hulle praat dan ook oor wat hulle alles by die geheime plek en by die groot boom op pad soontoe moet doen.
    Maar hierdie werk in die nag onder die kwaai oog van die tweede maan....aisch. Die ander kinders kyk klaar snaaks na hom, want hy is langer en het te min hare op sy lyf. Hy’s lelik, sê hulle. Sy hele familie is so bietjie snaaks, daarom is hulle bokkraal nou al hier aan die buitekant van die dorp se kraal. Dis hier waar hy die kalbasse en velle in die gat moet wegsteek.
    Pa Ia se plan is nie Sor se eie plan nie. Hy wil eerder hê hulle moet soos die ander word en inpas, anders gaan hy nie eendag ʼn vrou en ʼn hut kry nie. Partykeer is pa Ia se planne slim, maar ander kere weet hy darem nie. Soos met die lang-oor: Dié lelike dier kan nie eens melk maak nie. Sy vleis is boonop sleg, sê almal. Maar Sor se pa pas die lang-oor soos goud op, want “ons gaan hom nog baie nodig kry,” sê hy gereeld.
    Soos die dae verbygaan begin Sor egter meer sin aan pa Ia se plan, waaraan hulle so lank al werk, kry. Dit gaan al hoe slegter in die dorpie. Ra, die nuwe toordokter, is groot maats met die jonges. Moegoes noem oupa hulle, en anner ouma knik dan haar kop waar sy sit en mieliemeel uitwan. Dié jonges gaan elke aand later slaap. Hulle sit en drink by Ra se groot hut en hulle raas al hoe meer. Hulle draf soos ’n trop wildehonde deur die veld en deur die dorpie, met Ra ewe pronkerig vooraan.
    Die kinders vertel bangmaakstories oor wat dié trop in die nag doen. Dalk is party van die stories nog waar ook. Daar is kinders wat wegraak en bokke wat sny-plekke het, en te veel van hulle sorghum moet aan Ra se bier-maker gegee word.
    Ra wil al hoe meer van die yster by pa Ia hê – net hý weet waar om die klip te kry en hoe om hom te smelt en punte vir pyl en spies te maak. Ra besef dis beter wapens as kieries en klippe.
    Eers het die moegoes hulle uitgelos, maar nou dans hulle partykeer ook by Sor se familie se hut verby en sing:
    “RA! on tologi korpo Rasi!”
    En dan huil Sor se sussie want sy’s bang. Sor dink: “Dalk is pa Ia se geheime plan tog nie so ʼn slegte idee nie.”

    Daardie aand is die moegoes om Sor-hulle se hut en hulle is daarom bang om buitentoe te gaan. Die moegoes vat kos en bier, want hulle beskerm kastig vir almal.
    “Teen wie? Al gevaar wat hier is, is hulle self,” dink Sor. Hy probeer vroeg slaap, want wanneer die moegoes uiteindelik gaan slaap, moet hy opstaan.
    In die donkerste, stilste deel van daardie nag staan die Ia-gesin op. Elkeen het ʼn velsak met hul persoonlike besittings in. Hulle loop wind-af om die dorpie op die pad wat hulle geoefen het, sodat die dorpshonde niks ruik nie. By die bokkraal maak hulle hul eie waghonde, wat goed geleer is, los en pak die voorrade wat in die gat weggesteek was, op die lang-oor se rug.
    Daarna stap hulle Ooswaarts na die groot boom amper halfpad na die verbode woud. Alhoewel Oupa en anner Ouma baie hups is vir hulle ouderdom, raak hulle moeg. Pa Ia laat hulle om die beurt bo-op die voorrade op die lang-oor ry.
    “Dalk is dit nie so ʼn slegte dier nie,” dink Sor. Sy boetie en sussie hou hulle vordering ook op en dan moet die lang-oor maar weer help.

    Teen die tweede aand is hulle by die groot boom. Sor het só na die kalbasse vol heerlike water wat daar gebêre is, uitgesien, maar daar wag vir hom ʼn baie beter verrassing: Sy Oom Si, soos hy hom noem, en die moederlose nefies en niggie. Ja, sy geliefde nefie Khu, en dié se sussie An en boetie La, wat almal kastig gaan jag het, wag daar vir hulle. Sor stormloop hulle en hulle rol stoei-stoei op die grond.
    Die volgende aand slaap hulle net buite die verbode woud en daarna loop hulle tussen die lieflike groen bome tot by die geheime ingang in ʼn berg aan die anderkant. Hulle stap deur die versteekte tonnelgrot totdat hulle by die skouspel aan die anderkant kom.
    Sor wys dit trots vir sy oopbek-nefies: Die berg vorm ʼn halfmaan-krans om ʼn sanderige grasvlakte en aan die anderkant van die vlakte is daar ʼn groot water. Die water staan op, bekroon met pragtige wit skuim, storm op die rotse en sand af en val dan plat, net om weer te begin. Sor trek die hele heerlikheid diep in sy longe in: Die reuk van die vis en seekos, die reuk van die seegroen water en van die sout wat op ʼn mens se vel agterbly, en die gevoel van warm sand in sy hande as hy dit soos ʼn kosbare vloeistof opskep. Nou wéét hy: Hier is waar hy werklik tuis is!
    Die kranse is van sandsteen en daar is twee groter grotte, asook verskeie kleiner holtes, daarin uitgehol. Die familie Ia trek in een van die grotes in en spring aan die werk om dit meer leefbaar te maak. Oom Si-hulle bly in die ander ene.
    Die grot se bek is ʼn paar meter bokant die grondvlak, maar daarvoor het Sor en pa Ia lankal reeds ʼn houtleer gemaak. Daar is ronde gate oral in die sandsteen gespoel en hulle anker stokke daarin om die opening toe te sper. Die groot houtleer kom tot bo-op die stokke en ʼn klein trap-leertjie gaan aan die binnekant af. Só kan ʼn mens nie uit die grot val nie en is die mense binne nog meer beskut.
    Daar is plek vir vuurmaak binne, en vir elkeen word daar ʼn lêplek gemaak. In een van die kleiner grotte is die water wat deur die klip sypel die lekkerste en meeste, en hulle maak elke dag daar hulle waterkalbasse vol. Sor se ma en anner ouma werk hard aan velle wat hulle brei om nuwe klere, en nog komberse vir die harde klipvloere van die grotte, te maak.
    Buite, halfpad tussen die grotte, is daar ʼn boom wat Sor en pa Ia lank gelede daar aan die gang gekry het, en hy dra reeds: Vlesige rooi vrugte wat anner ouma “Maties” noem.
    Daar word ook kraal gebou vir al die diere. Party van hulle jaghonde ken reeds die plek en weet waar om hase en veldmuise te vang. Daar is nie veel om te jag daar naby nie, maar daar is baie soorte kos, selfs voël-eiers en kos in die water waarvan pa Ia lankal al vir Sor geleer het.
    Sor-hulle en die Si-kinders kyk gedurig wat die ander familie doen en hoe hulle plek lyk, en dan probeer hulle nuwe dinge.
    Elkeen het baie werk om te doen om die plek lekker te maak en om vir elke dag se benodigdhede te sorg. Tussenin gee Sor se oupa nog elke dag ook vir die ses kinders klas. Hulle leer goed wat Ra en sy moegoes nie van weet nie. Alhoewel hulle veilig voel daar, is daar ook skofte van waghou en patrollie loop. As daar na hulle gesoek word, kan hulle geheime plek dalk opgespoor word. Hulle maak ook wapens, pa Ia se slim wapens...

    Sor het ʼn nuwe stokperdjie ontwikkel. Daar is, veral bo-op die berg, klippe wat mooi kleure maak as hy dit verpoeier. Sor en sy ma het ook kleure in die water en in die woud gekry in skulpe en plante. Saam teken hulle prente op die mure van die grot.
    Alhoewel almal eers die grot gedeel het, het oupa later drie dele afgeskort met nog takke wat in die ronde gaatjies in die klip geanker word. Veral die middelste deel, waar hulle eet en gesels, word kleurryk met al die kleure wat hulle kan kry, versier: Hulle teken diere wat bruin, pienk en oker is, en blomme en visse wat blou, pers en geel is.
    Later begin Sor snaakse patrone uit sy drome teken, maar dié teken hy eerder in die tonnelgrot. Dit word ʼn projek om indringers af te skrik: Vreesaanjaende patrone en prente van denkbeeldige diere, reuse akkedisse wat vuur spoeg, insekte met rooi oë en wapens wat niemand verstaan nie. Oupa skud maar net sy kop as hy dié eienaardige prente sien. Maar toe doen Oupa Kro ʼn snaakse ding: Hy haal die hanger met die pragtige groen steen, wat om sy verrimpelde ou nek was, af en gee dit vir Sor. Dit beteken iets groots, maar presies wat, weet hy nie.
    Sor kry maar min tyd vir sy tekeninge, danksy pa Ia se nuutste obsessie: Duik. Sor moet oefen om al hoe dieper in die water te duik en dan verslag te doen oor wat hy daar sien. Die water word vinnig diep en die rotse vorm ook ʼn halfmaan onder die water. Die rand van die halfmaan is baie gevaarlik, want die water is daar skielik vlakker voordat dit weer dieper word, en die water maal en kolk en raas daar. Gelukkig stel pa Ia nie daarin belang nie, hy stel net belang in die deel binne die halfmaan.
    Sor dink dat as ʼn mens soos ʼn voël kon vlieg en van bo af kyk, kan die halfmaan berg en halfmaan diep water lyk asof daar ʼn reuse klip daar geval en ʼn ronde gat gemaak het.
    Vandat hy onder die water groot bene, amper soos die geraamte van ʼn baie groot vis gekry het, laat sy pa hom nog meer en meer duik. Van al die kaal lyf in die son en die water word sy vel later so donker dat ʼn mens dalk selfs kan dink dat Oom Si werklik sy eie oom is.

    Eendag toe Sor by die bek van die tonnelgrot kom om aan sy meesterstuk te werk, verstar hy. Daar is ʼn nuwe skets, ʼn rooi en geel monster met vreeslike oë. Dit is nie syne nie en dit lyk ook nie na sy ma s’n nie! Hy word yskoud as hy daaraan dink dat daar iemand anders is, ʼn vreemdeling wat boonop nie bang is nie. Hy kry geen spore nie, net ʼn vae merk asof daar dalk ʼn baie ligte klein voet getrap het, maar dit is so lig dat dit dalk net sy verbeelding is.
    Uitasem hardloop hy terug na die grot waar sy pa is.
    “PA! PA!” roep hy.
    Die ou mense maak almal asof dit nie so erg is nie, en sê dat hy nie die jonger kinders moet vertel nie, maar tog lyk hulle bekommerd. Hulle staan van toe af twee-twee wag en verdubbel die patrollies. Sor en Khu doen dit saam, en hy vertel sy geliefde ‘nefie’ wat aangaan. Hulle het lankal bloed gesweer aan mekaar, en dit was so seer dat hulle dit nie weer sal doen nie. Sor laat Khu egter aan die einste merk op sy duim vat en sweer dat dit net tussen hulle sal bly.
    Sor is nie seker oor dit wat hy onder die water sien toe hy die volgende dag afduik na die geraamte nie. Tussen twee van die grootste bene sien hy ʼn lig. Daar is iets wat soos ʼn groot rots lyk maar daar skyn ʼn magenta lig van binne. Sy asem raak op en hy gaan boontoe. Hy is huiwerig daaroor of hy almal daarvan moet vertel. Hulle gaan dink dis nog ʼn droom. Hy neem hom voor om eerder die volgende dag te gaan seker maak.
    Laat daardie nag skrik almal wakker.
    DIE GROND BEWE!
    Sor gryp na die kind naaste aan hom. Dit is sy boetie, koud geskrik en huilerig. Dit hou net ʼn klein rukkie aan en toe gaan dit weg, maar hulle is almal wakker. Sy ma kom stel hulle gerus en paai hulle, maar daar is nie veel slaap die res van daardie skemeroggend nie. Die aardbewing het van die see se kant af gekom volgens pa Ia.
    Ná opstaantyd werk hulle hard aan nog ʼn lawwe idee van pa Ia: Hulle beweeg al hulle belangrikste goed, soos die bokkraal en die ysterpot en die snaakse blink pylpunte en lemme, so hoog as moontlik in die kamp en maak alles stewig vas.
    Hulle werk hulle ook oor ʼn mik om die touleer wat van die twee grotte af boontoe gaan, klaar te maak. Hulle maak ook hake heel bo aan die krans vas, waaraan die tou vasgehaak kan word deur dit op te gooi. Van duik is daar voor middagete nie sprake nie.

    Daardie middag is Sor op die rotse by die een punt van die halfmaan, waar die kranse by die water kom, op soek na voëleiers. Hy gebruik ʼn tou om op te klim en ʼn kosbare pylpunt om die tou in die klip te anker. Hy is baie versigtig, want hy het hom al voorheen verbeel hy sien van ver af iets hier beweeg. Toe hy om die een rots kom, sien hy dit weer, maar die keer van naby af: Daar is iemand daarbo!
    Dit is op ʼn onherbergsame plek aan die bokant van die krans, maar hy ken ʼn geheime pad tot daar as ʼn mens deur die tonnelgrot uitgaan en anderkant om kom.
    Dit is net-net moontlik, maar baie gevaarlik, om van daar af by die krans af te klouter tot by die water. Die groot water maak ʼn inham by die halfmaan waar hulle bly, maar is baie verder weg buite die halfmaan. Sover ʼn mens langs die kuslyn af kan sien, is dit regaf kranse teen die water. Hulle blyplek is die enigste plek daar naby waar ʼn mens met gemak by die water kan kom, maar met hierdie geheime pad kan ʼn mens met groot moeite ook by hulle plek uitkom, sonder om deur die tonnelgrot te gaan.
    Dit lyk na ʼn mens met lang swart hare en lang grasieuse sonbruin bene. Iets daaraan is vir hom mooi, maar hy weet nie wat nie. Sor weet ook nie of die mens hom gesien het nie. Hy klim versigtig terug en begin na sy familie toe draf.
    Maar toe maak Oom Si alarm!
    Sor is op die sand by die water en nog ver van die grot af. Hy sien eers een silhoeët op die rand van die krans verskyn en toe nog een. En toe nog een. Hulle plek is ontdek! Hy hoor ʼn benoude gil van daar waar hy vandaan gekom het. Dit lyk asof die mens wat hy eerste gesien het, probeer wegkom van die ander wat bo-op die krans is.
    Om een of ander rede trek hy al sy klere uit, gooi sy velskoene neer en storm in die water in. Hy sien hoe klippe van die krans af gerol word en sy mense uit die grotte vlug met hulle wapens en honde, na die rand van die water toe.
    Hy kyk na die ander kant toe en sien nou dat die mens met lang swart hare ʼn jong meisie is. Hy kan al haar oë sien, opstandig en bang, toe sy van die krans af in die water spring. Dan begin hy duik en almal verdwyn uit sy gesigsveld.

    Ra lek sy lippe af. Vir maande reeds word hy al hoe sterker. Die hutte van al die slap toordokters wat nie agter hom wil loop nie, lê swart gebrand op die vlaktes en heuwels van die land. Die jong manne wat saam met hom is, word elke dag meer en hulle is soos honger honde, honger vir nog kos en vir nog mense. Veral vir vroumense.
    Hy lek weer sy lippe af. Vandag het hulle ʼn groot vonds gemaak. Hierdie mooi plek het baie, baie kos en nog mense, vrouens en kinders ook. En dan is daar die meisie daar onder die krans. Wat ʼn geluk dat hy haar agtervolg het! Hy weet haar naam is Li.
    Hy voel die warmte van sy krag van onder af in hom gloei as hy haar hut onthou en hoe die mense geskreeu het. Sy het mos gedink sy gaan wegkom!
    Maar nou is sy daar onder, en die mooi maer seun naby haar in die water. Hy wys vir die jonges, die honde van Ra, om hulle spiese en kieries op te tel en nader aan die krans te gaan. Hulle het ook toue wat hulle vasmaak en afgooi. Hulle kyk na hom met oë wat die afgelope paar maande swart en gretig geword het, en antwoord met skor stemme:
    “RA! on tologi korpo Rasi!”

    Sor beweeg rustig maar dringend, want hy weet netnou gaan sy longe begin brand. Asof in ʼn droom, asof hy weet wat hy doen, swem hy na die gloeiende rots toe. Daar is ʼn skeur in die rots, en onderkant dit is daar ʼn plaatjie waarop daar staan:
    “pergamemnon maneo chalcedonum directus”
    Sor het geen idee wat die letters beteken nie, maar tog weet hy wat om te doen. Hy probeer aan mooi, rustige plekke dink, en aan sy pa en familie, aan Khu en aan hoe hulle sterker en veiliger kan wees op ʼn nuwe tyd en plek. Met een hand hou hy aan die gerusstellende steen aan die hanger om sy nek vas. Hy steek stadig sy ander hand, die linkerhand, in die rotsskeur in. Hy voel hoe dit sag en warm word, maar hy voel ook ʼn ander beroering in die water, iets wat verkeerd is...

    Ra kan al die bloed ruik. Hy sper sy neusgate oop en staan wydsbeen. Hy drink die krag in wat al hoe sterker in hom gloei. Toe eers sien hy die water opstaan. Eers ver van hulle af en toe kom dit vinnig al hoe nader. Dit is ʼn water-muur so hoog soos die krans waar hy Li se pa laat afgooi het. En toe sien hy die kleure. Sy oë rek groot; ʼn gil stol stil in sy mond. Toe word hy meegesleur in ʼn vloedgolf van kleure wat oneindig hoog bo-oor die water-muur spoel:
    ROOI! GEEL! BLOU! MAGENTA!
    Die geweld van die ontsettende energie wat om hulle losbars, maak hom gelykertyd niks en alles, waar hy saam met die platgeslane sterre om die verskriklike kern van lig wentel vir ʼn ewigheid wat korter duur as enige oomblik. In die lig is daar ʼn donker kol wat soos ʼn vlek daaroor groei totdat alles nag is in die heelal.

    En dit was aand en dit was môre, ʼn nuwe dag breek rooi en stadig oor ʼn gebroke wêreld...

      Current date/time is Fri 26 Apr 2024, 4:43 pm