Pokkel die dapper draak

    Share
    avatar
    Torm

    Location | Ligging : Donker Afrika
    Posts | Bydraes : 260
    Points | Punte : 465
    Join date | Datum aangesluit : 2011-09-16
    Age | Ouderdom : 60

    Pokkel die dapper draak

    Post by Torm on Fri 14 Oct 2011, 6:56 am

    1. Pokkel die dapper draak

    Die geskiedenis:

    Eendag was daar ʼn draak met die naam van Pokkel. Hy het baie gehou van koek. Omdat hy te min geld gehad het, moes hy maar gewoonlik van brood lewe.

    Pokkel is maar baie gespot toe hy ʼn kind was, want sy magie is lekker rond. Sy neusgate was ook nog altyd verskriklik groot. Nou ja, drake moet baie dik velle om hul neuse hê vir die vuur wat daardeur moet gaan, maar Pokkel se neus was EKSTRA groot. Pokkel se vel is darem bedek deur die pragtigste groen en pienk skubbe. Sy mamma het altyd vir hom gesê: “Pokkeliefie, dit is wat jy doen wat mooi is, nie hoe jy lyk nie.”

    Die mense het gedink drake soos hy is sleg. Hulle het altyd ridders gestuur om teen hom te veg. Net die kinders kon sien hy is goed. Die ou heel kleintjies was natuurlik mal oor sy ronde magie, want hulle kon daar opklouter en dan weer, al gillende, afgly. Soms het hulle skelm vir hom koek gebring en dan het hy vir hulle stories vertel.

    Toe, eendag, het ʼn klomp slegte soldate die land aangeval. Die koning het ʼn boodskap uitgestuur om hulp, want sy ridders was te min. Almal was egter te bang en het weggehardloop. Ja, sowaar, daar hardloop al die mense wat moes veg, toe weg. Heel vooraan het die belangrikes met hul mooi uniforms en hul medaljes gehardloop. Kort agter hulle het die soldate en vegters met hul blink wapens gehardloop. As hulle so hardloop het hul magies so geskud. Ja, selfs die mense wat lank gelede vir Pokkel gespot het, het later self maar rond geword van te veel bier. ʼn Paar ridders het probeer dapper wees maar dit het niks gehelp nie. Die vyand was te sterk en hulle het boonop ʼn oorlogstenk gehad. Sjoe, maar dit was ʼn gevaarlike gedoente. Dit was van staal gemaak. Die oorlogstenk het ʼn kanon en ʼn klomp masjiengewere gehad. Die arme ridders het nog nooit so iets gesien nie!

    Pokkel die draak het toe besluit om te gaan help. Hy het sy tas gepak vir die reis en vir die stryd: Ekstra klere, pleisters vir spies-steke, sy sonbril, margarien om op die brood te smeer as dit sleg is en...sy LAASTE koekie om hom krag te gee.

    Pokkel het in sy lorrie geklim met sy tas om vinnig te ry sodat die mense hom nie sien en met hom baklei nie. Wag! Hy het amper vergeet van ekstra batterye vir sy power shield, om die spiesgooie af te weer. Hy hou glad nie van spiese nie, want hulle steek baie seer in sy boud.

    Pokkel die draak het tot naby die oorlog gery in sy lorrie. Hy het ʼn entjie weg sy tent opgeslaan in die berge langs ʼn rivier. Daar het hy gewag vir die nag....

    In die nag het daai draak toe die vyande aangeval. Hy het hulle met baie rook en vuur skrikgemaak. Hy het hulle geskop en op hulle geskreeu:
    “Los my mense uit! Julle mag nie hier kom nie! Julle mag nie in hulle huise inbreek nie! Moenie hulle tv’s, dvd’s en karre steel nie! Los hulle geld uit in die bank! Hulle lyk dalk ryk, maar hulle sukkel net soos julle! Hulle werk hard vir hulle geld! Hulle arme kinders sit die hele dag by die na-skool met net ʼn selfoon en ʼn ipod vir geselskap!”

    Hy was so kwaad! Toe het hy sy stert woes geswaai en hulle oorlogstenk getref dat dit in stukke spat. Elke stuk het ʼn streep gemaak in die lug en ʼn gat in die grond as dit val. Die wrak van die tenk was pikswart verkool. Al wat van die tenk se naam oorgebly het, was ʼn stuk yster met die letters RA op. O, en daar was nog ʼn stuk met die letters MI op. Hulle het later die stukke van die tenk met drie lorries kom haal, 222 stukke in elke lorrie. Dit het die land so besoedel dat die koning later 'n wet gemaak het. Die wet se naam was: "alle wapens en margarien bakke moet van lekkergoed gemaak word sodat die kinders die stukke kan opeet."

    Die vyande het groot geskrik en gevlug. Die koning was baie dankbaar. Hy het toe vir Pokkel die draak ʼn huisie by die see gegee. Die bakkery het vir die draak afslag-koepons gegee vir koek. Hulle het dit koepokkels genoem en dit ook vir ander arm mense gegee. Die winkels het vir hom speelgoed gegee en batterye vir sy power shield. Daai shield het sy boud beskerm teen spies-steke maar dit het al die batterye pap gemaak.

    Pokkel die dapper draak het lekker gebly in sy huisie by die see en heerlik koek geëet. Maar die beste van alles was: Die mense het nie meer gedink hy was sleg nie.
    Die einde.
    Nou mag jy maar ʼn stukkie koek geniet.

    2. Pokkel gaan skool toe

    Wat verder gebeur:

    Eendag was daar ʼn draak met die naam van Pokkel. Hy het baie gehou van koek. Pokkel is maar baie gespot toe hy ʼn kind was, want sy magie is lekker rond. Omdat hy te min geld gehad het, moes hy gewoonlik van brood lewe.

    Maar Pokkel het mos ʼn huisie by die see en baie koek ontvang vir sy dapper geveg teen die koning se vyande. Hy bly so lekker daar. Die lekkerste is as die kinders vir hom kom kuier en dan speel hulle rugby op die strand. Dan hardloop en spring en jil en rol hulle met ʼn bal op die sand.

    Maar tog pla iets vir Pokkel. Die kinders praat baie oor skool. Allerhande dinge gebeur daar. Hulle leer interessante goed en daar is vreeslik baie kinders wat pouse saam speel. Pokkel wil so graag ook meer weet. Hy kan so hier en daar ʼn woord lees, maar hy kan glad nie skryf nie. Pokkel wil eintlik baie graag skool toe gaan.

    Een middag gesels Pokkel met sy maatjie Divan daaroor. Divan spring op en sê: “Maar Pokkel, dit is wonderlik! Ek vat jou sommer volgende week skool toe! Ek en jy gaan net gou leer om jou naam te skryf, want dit moet jy darem eers kan doen.” Pokkel werk vir ʼn paar dae hard daaraan om darem iets te weet voordat hy skool toe gaan.

    En toe breek die groot dag aan. Pokkel moet self die vorm invul om ingeskryf te word, want sy mamma is nie meer daar nie. Gelukkig is Divan byderhand om te help. Later lui die klok en Pokkel stap saam met die maats by die klas in. Al is hy net tien jaar oud, is Pokkel die grootste maatjie in die skool!

    Maar o wee, daar moet hy die ergste verleentheid verduur! Die stoeltjies is mos nie gemaak vir ʼn ronde draak se boud en stert nie. Pokkel wil so graag nie aandag trek nie, want hy voel maar ʼn bietjie uit. Hy sukkel egter met die stoel, en dit knars oor die vloer. Die onderwyser lyk maar vies. Pokkel wurg gou sy stert deur die opening agter in die stoel, en druk baie hard op sy boud sodat dit plat word, dan pas sy bene onder die tafel in. Hy hoop die stoel hou!

    Later gaan dit beter, en die pouses is wonderlik. Pokkel gebruik nog steeds koepokkels om iets vir sy kosblik te koop. Pouse is baie kort as ʼn mens wil rugby speel en eet!

    Pokkel kom so met verloop van tyd agter dat daar tog iets skort by die skool. Daar is ʼn seun met die naam van Boelie Bief wat snaakse dinge doen. Dalk is dit omdat sy ma hom so ʼn simpel naam gegee het, wonder Pokkel soms. Daar is ook ʼn klomp seuns wat alles agter Boelie aan doen. Hulle vat kleiner kinders se kos af en terg kinders. Hulle dink dit is snaaks om ander kinders te pootjie. Hulle dink dit is snaaks om ander kinders se tasse in die asblik te gooi. Hulle raas in die klas as die ander probeer werk. Pokkel kan nie glo dat die onderwysers nie kwaaier is met die stoute Boelie nie.

    Eendag kry Pokkel nie vir Divan nie. Hy soek hom oral. Dan hoor hy ʼn geskreeu agter die fietsloods. Toe hy daar aankom, sien hy dat Boelie vir Divan rondstamp. “Ek sal besluit of jy jou kosblik terugkry as ek met hom klaar is!” jil Boelie en skop die kosblik dat dit daar trek.

    “My ma het nie geld om aanhoudend nog kosblikke te koop nie!” kla Divan. Toe slaan Boelie vir Divan. Pokkel sien rooi. Voor Boelie weet wat hom tref, het al sy maats weggehardloop vir die draak se rookbolle, en is hy wat Boelie is, gebukkend vasgedruk teen ʼn lae muurtjie.

    “Jy gaan nou die kinders uitlos!” sê Pokkel ferm en hy looi Boelie met die dunste deel van sy pienk en groen stert. “Kinders kry permanente letsels as hulle so verneder word! Los hulle kosblikke uit, hul ma’s het baie hard daarvoor gewerk! Die arme kinders word die hele dag deur ander mense opgepas omdat hul ma’s so hard moet werk! Dit sal baie goed vir jou siel wees om te leer om jammer te sê!” Die skubbe op Pokkel se stert maak “kirr” as dit deur die lug swaai voor dit Boelie se sitvlak tref.

    Boelie wil nie weer die draak se stert op sy sitvlak voel nie. Hy het nog nooit pakslae gekry nie, en dis nie lekker nie. Hy prewel: “Sorry, Divan,” en hardloop weg. Divan is baie dankbaar maar hy is bang Pokkel kry moeilikheid.

    Moeilikheid is toe ook wat die volgende dag gebeur. Die skoolhoof is maar ʼn bietjie bangerig vir die draak wat ʼn held is. Pokkel moet sommer ver van sy lessenaar af staan toe hy hom inroep.

    “Pokkel, ou seunie, die lewe werk maar anders partykeer. Ja, jy dink jy doen ʼn goeie ding maar dan is dit ʼn slegte ding. Ja, toe ek op skool was, het ek altyd my werk goed geleer maar mense was nooit tevrede daarmee nie.”

    Pokkel staar vir die skoolhoof, want eerstens is dit die eerste keer dat hy iemand sien wie se maag net soos syne lyk. Tweedens verstaan Pokkel nie ʼn woord van wat die hoof vir hom sê nie. Wat gaan aan?

    Pokkel stap in ʼn waas by die kantoor uit met ʼn oorplasingskaart. Dit is so ʼn snaakse papier wat die skoolhoof vir hom gegee het. Hy wys dit vir Divan, en daar bars sy maatjie in trane uit!
    “Pokkel, dit beteken jy mag nie meer na hierdie skool toe kom nie. Jy moet daardie papier vir ʼn ander skool gee! Ek het geweet dit gaan teen jou tel dat Boelie se pa so belangrik is!”
    Eers kan Pokkel dit nie glo nie, maar toe begin hy onthou wat die skoolhoof vir hom gesê het. Dit is maar hoe die lewe is. Maar een ding verstaan hy nie.
    “Divan, maar hoe gaan Boelie ooit leer om ʼn goeie mens te wees? Hy mag slegte dinge doen, maar as iemand hom stop, is hy in die moeilikheid. Het niemand dan vir Boelie lief genoeg om hom te help om ʼn goeie mens te word nie? Nie eers sy ouers of die skoolhoof nie?”
    Divan is te hartseer om te praat en hy trek net sy skouers op.

    Maar ag toemaar wat, dit is toe nie so erg nie. Die kinders vertel elke dag vir Pokkel wat by die skool gebeur het. Hulle vertel selfs dat Boelie maar ʼn bietjie versigtiger is. En toe kom vra die rugby-afrigter vir Pokkel om tog maar saam met die skool rugby te speel. Hy het ʼn papier gemaak wat lyk asof Pokkel nog in die skool is. En so leer Pokkel dat ʼn mens allerhande dinge kan doen met papiere waarop daar slim dinge geskryf is.

    Maar die rugby-spelery is ʼn storie vir ʼn ander dag. Nou mag jy maar ʼn stukkie koek eet. As jy hartseer is oor Pokkel se moeilikheid, moet jy ʼn glasie melk saam met jou koek probeer. Dit doen wondere.

    3. Pokkel en die rugbyspan

    Eendag was daar ʼn draak met die naam van Pokkel. Hy het baie gehou van koek. Pokkel is maar baie gespot toe hy ʼn kind was, want sy magie is lekker rond. Omdat hy te min geld gehad het, moes hy gewoonlik van brood lewe.

    Maar Pokkel het mos ʼn huisie by die see en baie koek ontvang vir sy dapper geveg teen die koning se vyande. Hy bly so lekker daar. Die lekkerste is as die kinders vir hom kom kuier en dan speel hulle rugby op die strand. Dan hardloop en spring en jil en rol hulle met ʼn bal op die sand.

    Pokkel het net vir ʼn klein rukkie skool toe gegaan maar nou bly hy weer tuis. Die skool wil hom wel gebruik vir die rugbyspan. Dit verstaan hy nie mooi nie – wat is dan nou spesiaal aan hom? Dit is so dat hy die hele skrum op sy eie rondstoot. Dit is ook so dat die ander span hom nie graag duik nie, want sy pienk en groen skubbe steek partykeer nogal seer. Watookal, Pokkel speel graag saam met die ander kinders rugby, want hy is maar ʼn spelerige drakie. Dit is tog so vervelig wanneer die kinders nie saam met hom speel nie.

    Sjoe, maar hulle speel baie rugby-wedstryde! Pokkel verstaan nie mooi wat is al die wedstryde en toernooie nie, maar as die afrigter vir hom sê om te speel, dan speel hy. Later speel hy saam met ander skole se kinders en daar is selfs ʼn paar ander drakies wat speel. Hulle is natuurlik nie pienk en groen nie, hulle is sulke regte rooi drakies. Later het Pokkel ʼn rak nodig vir al die medaljes en trofees. Hy kry ʼn groot stuk yster op die vullishoop en blaas dit met sy vuur en slaan dit en druk dit totdat dit ʼn rakkie is vir sy rugby-pryse.

    Pokkel gaan speel rugby in ʼn ander dorp, en daar is ook ʼn drakie. Hy weet nie wat ‘proewe’ is nie, maar hy speel! Maar kyk, vir daardie ander drakie kan hy nie die bal aangee nie. As die kinders ou rooie wil duik, dan verloor hy die bal en hardloop weg. Elke keer as hulle skrum, is daar iets wat ou rooie pla – dan trap iemand op sy stert, dan druk iemand ʼn vinger in sy oor (wel, dit is regtig seer, jong!) en so gaan dit aan. Pokkel druk maar self die skrum tot hulle die bal kry, en Pokkel gaan druk maar self die drie, al ruk iemand amper sy stert af toe hy dit doen. Na die wedstryd roep vreemde omies hulle bymekaar.

    “Ons land se onder 13’s gaan op toer en die volgende outjies gaan saam!” sê die omie met die grootste magie. Pokkel wag, maar hy hoor nie sy naam nie. Wat wel snaaks is, is dat hulle ou rooie se naam lees. Hoe is dit moontlik? Pokkel voel hoe hy snaaks warm word in sy nek. Hy stap na sy afrigter toe en vra skaam: “Meneer, watse soort span is dit dat ou rooie dan gekies is?”

    Meneer wys vir hom hy moet sjuut, en fluister: “Dis ingewikkeld, hulle moet na allerhande dinge kyk en dit is maar hoe dit is.”
    Die seuntjie langs Pokkel weet alles en vertel dat daar uit die 20 spelers net een draak mag wees, en rooie is ʼn Oppendraak. Meneer frons en wys hulle moet altwee sjuut, want die mense kyk al vir hulle. “Wat is ʼn Oppendraak?” vra Pokkel onthuts en warm.

    En toe gebeur daar al weer ʼn verleentheid. ʼn Bol rook glip by Pokkel se mond uit. Iemand gil. Skielik is die Brandweer en die Polisie daar. Meneer stop hom gou in die skoolbus en hulle ry terug na sy dorpie toe. Later kry Pokkel ʼn sms: “Die rugby is verby. Moenie weer kom oefen nie.”

    Nou het Pokkel genoeg gehad. Hy mag nie skool toe nie en hy mag nie rugby speel nie en hy verstaan nie en hy is honger en dors. O ja, hy kan darem iets aan die laaste twee doen. Hy skep ʼn stukkie melktert uit die yskas en vat ʼn sluk melk uit die bottel. Pokkel dink diep terwyl hy eet.

    Na ete pak Pokkel weer sy ou tassie van die oorlog: Onder in sit hy ʼn foto onderstebo, en bo-op dit een van sy medaljes. Heel bo-op sit hy ʼn pakkie Tenniskoekies vir ʼn vinnige happie. ʼn Mens weet nooit. Toe klim hy in sy lorrie en ry na die koning se paleis toe.

    By die paleis wil die wag hom nie laat ingaan nie. Geen drake word hier toegelaat nie behalwe, wel nie sommer enige draak kan sommer daar instap nie. Voor Pokkel hom vervies, maak hy sy tas oop. Hy wys vir die wag die foto.
    “Lyk die draak langs die koning dalk vir jou bekend?” vra hy. Die wag verstar. Pokkel haal ook die Nasionale Held-medalje uit sy tas en swaai dit voor die wag se groot neus rond.

    “O gonna!” roep die wag verstom uit, “jy kan tog nie DIE draak wees nie – jy lyk nie soos ʼn ....”
    “Ek is NIE vet nie!” antwoord Pokkel en loop verby die wag.

    Pokkel loop reguit met die gang af tot in die troonsaal. Daar buig hy diep en sê: “Majesteit, kan ek u asseblief iets vertel?”
    Die koning luister aandagtig na sy held se storie en frons. Daarna waai hy sy septer vir ʼn groot halbardier wat by die deur staan. Die halbardier stamp drie keer hard op die klipvloer met sy lans: STAMP STAMP STAMP!
    Papiere ritsel waar ʼn klein mannetjie by ʼn tafel homself regskuif om neer te skryf wat die koning sê.

    “Ek, Loderoos die twaalfde verklaar hiermee dat skoolhoofde en ouers wat nie ferm optree teen boelies nie, ongeag wie hulle is, van nou af tronkstraf sal kry! Hiermee verklaar ek ook dat geen sportspan in my koninkryk weer gekies sal word met enige ander beleid as dat die beste beskikbare spelers in die span moet wees nie. O, en voordat ek vergeet: Van nou af moet ouers ʼn eksamen deurkom voordat hulle kinders mag kry. Oortreders sal verskriklik swaar beboet word vir die moeite wat hul onbekwaamheid die land nog gaan aandoen. Ek het gepraat!”
    Die klein mannetjie skryf girts, girts, girts. Die halbardier maak weer STAMP, STAMP, STAMP!

    Op pad terug huis toe stop Pokkel onder ʼn boom by ʼn stroompie bergwater. Hy eet ʼn paar koekies en drink ʼn slukkie water. Die voëltjies sing, die stroompie kabbel en hy voel tevrede.

    Sjoe, maar jy het hard gelees om tot hier te kom! Nou mag jy ook maar ʼn stukkie koek geniet.

    DIE EINDE
    ©Torm 2011

      Current date/time is Sat 21 Oct 2017, 4:27 am