in die poel van 'n spieël
waarop waas van 'n warm
oggend-stort haarself nog
swewend, druppelsgewys ontklee
vind jy dalk 'n waarsêersloon
in die drogbeelde wat daar hang
en met gesplete tong
jou denke verken;
jy wil tog weet, dan nie?
so staar jy dan
totdat jou ander-self
iets van jouself herken;
so staar jy dan
totdat jou ander-self
die sin van die beelde érken;
so staar jy dan
totdat jou ander-self
omdraai en dit opnuut wil óntken;
as jy lank genoeg staar
is jou waarsêersloon dalk slegs
'n voorbode
van onvervulde drome.
© (2011) Rudi Prinsloo
Alle regte voorbehou / All rights reserved