wanneer miswolke soos sluiers van die hart
kortstondig lig oor die asemlose stad
kan ek sien, kan ek SIEN
hoe onbevredigde wrede drome
van Eldorado
plek maak vir die moderne mite
van Machu Picchu
amper so hoog soos die hemel
‘n skouspel van geil groen terrasse
met vore vol geseënde bergwater
die goudlose stad
soos ‘n skat
word die kennis ontgin
van die Intihuatana
wat die son kan vang
en die Tempel van Drie Vensters vanwaar
‘n grootse uitsig stort oor die kranse
van die Vilcabamba
maar laatnag slaaploop bleek spoke
van die Maagde van die Son
oor die blou maanlandskap na pleine
wat ons nou nog nie verstaan nie
soos ‘n skat
word die skoonheid ontgin:
die vernuwende krag van vergesigte
tussen ongemesselde mure van presiesheid
‘n beeldskone stad geskep sonder besigheid
niks is hier verkoop of gewin nie
net seremonies in tempels
en prikkelvars dun lug
maar om middernag sug
die bloed van vergrype om die altaar
en weerklink krete lankal vergete
(so vergete soos Pachacuti Inca se grootse glorie)
vanaf die grot in die Tempel van die Son
tot ver bo die woude
en die geskree van ape en papegaaie
oor die eng Urubamba hangbrug se vrees:
maar nog meer huiwerig is die wete
dat dit alles so
anders
kon wees
© Torm 2012