Dit is goed dat sterk takke spleet
dit maak dubbel soveel
groeipunte
dubbel soveel
blomstingels
en wanneer die tyd reg is
ontvou elk’ knop kragtig
in verruklik
gekleurde
blomblare wat aanhou oopmaak
asof die hemel self heerlik
binne-in vorm aanneem
om ontbloot te word
as die blom maar net kon aanhou.
Maar nog nie vir die kleinste boompie
in hierdie park van rose nie
sy takke dra skaars krag om enkel blom te maak
dan spleet dit al
nog twee verskrompelde stingeltjies
wat elkeen sy eie blom wil maak
en sodra dit lyk asof dit dalk kan
dan
verdeel dit weer
en is die jaar dalk wonder-goed
maak dit enkel’ knop
die hele plant in barensnood
om een blom oop te stoot
amper dood
met die hemelse belofte bevlek
te klein om bye aandag te trek
en in die somerheet verskrompel
tot oneetbare saadknop
rooi gevlam asof bloed gedompel
en teen snoeityd hou dit op
want elke tak wat apart en swak sy saak verpand
word afgesny en verbrand.
© Torm 2011
Is ons as subspesie verdoem om te vertak, mekaar aan te val en so die toekoms van die hooftak te verpand voordat ons belofte tot werklikheid kan groei?