my bed is opgebreek en wit linne
lê stuk stuk versprei tussen gister en eergister;
winter is vroeg vanjaar en betoon geen genade
aan my bewende hart nie,
aan my bevrore hande wat nog gebaretaal
met jou wil praat nie
jy het stom geword,
woorde soek skuiling in jou oë,
onthou is nou kiekies wat die hele huis vol lê
tussen handgeskrewe gedigte wat toentertyd
moes verbeeld wat ons aan mekaar wou sê
(laas winter het ek nog kaggelvuur gestook
in jou bronstige skoot,
onthou jy ?)
nou verkrimp ek sawens teen growwe grein
van 'n hand geweefde mat en prewel klein gebede
om nie in swartryp van komende dun nagte
te verkluim nie
jou verse is al wat nog warm kriewel in my mond
terwyl 'n ys seisoen my liggaam onwelvoeglik streel.
© 2012 Almarie Truter