somtyds kan net die see
aan my berusting gee
somtyds sien ek te veel
tussen die lyne, te veel
agter die skuiwe
van die skaakmeesters wat speel
met ons lewens en ons daaglikse
stryd om oorlewing;
hoor jy die dreuning
van woeste veraf waters as jy wakker
lê en dink hoe om jou eie akker
te verskans teen die donker water
tot die hadeda die dag breek met sy geskater
vat selwers die pad langs die strand af
met voetspore wat water trek en wegwas,
spoorloos weg in die eindelose see
wat ritmies deining op deining dans oor die kim
maar somtyds is die antwoorde so verstrengel
in eindelose rafels van dag na dag se sekondes
en alles wat gebeur het en gesê is
dat dit somtyds versmoor of benoud verwater
tot dit noodwendig later
net spoke van antwoorde word;
in die meedoënlose see van werklikheid stort -
dink hoe dobber dit onsigbaar daar
op deinings van eindelose dae rond
vat selwers die pad langs die strand af
met voetspore wat water trek en wegwas,
spoorloos weg in die eindelose see
wat ritmies deining op deining dans oor die kim
© Torm 2012
Met dank aan musiekmeesters Chris Rea en Depeche Mode wie se Sometimes liedjies se atmosfeer my inspireer.