Hoe lank presies
sedert jou stem se gekabbel oor wit klippers ?
Herfs roes branderig teen berg klip boom
selfs die lou son -
begeerte loop ysvoet deur vroeë ryp
en bergganse skril in lae deur die kloof;
jy het beloof ons sou hierdie tyd van die jaar
saam brandhout soek vir winter,
ouhout wyne met wilde bessie asems
uit versteekte kelders gaar
vir komende diep nagte
nou splinter takke voor 'n ondergaande son
en grasvlaktes brand teen opgestikte nate van skemer
(ek haak vas tussen gister en nou)
tog knetter 'n rooi vuur tussen skouerblaaie
waar 'n oopte tussen bome my plek aanwys.
© 2012 Almarie Truter