Gedagtes lê soos 'n oopgeslane boek in hierdie nirvana
waar ek kwingkwang soek na jou silhoeët,
na die wit van jou kneukels wat afwys teen die maan.
Die lelies in my lyf ontplof
en nag word 'n kleurespel van sterrereën
toe ek jou effe verskuil teen 'n Kaapse geelhout sien staan.
Miskien moes ek jou jare terug reeds verban het
maar nagte dryf my ewig na buite,
na waar ek nog jou asem
teen die fyn klopping in my keel kan voel.
Hier staan ek nou tussen skouerblaaie van die aandwind
met 'n hunkering
wat soos vagevuur deur my ingewande woed.
Die lawaglas in jou kyk flits in klein blou kantelings
en opeens krimp die amber van voornag
tot 'n druppende kuip.
Goue paljas syfer deur my porieë
en ek swik voor die ontblote fynskrif
teen die palms van jou hande.
Nag word 'n diafaan kaatsing
en jy weet, soos ek
dat die verbode labirint in hierdie malse smag
teen dageraad soos 'n aanklag op ons gaan wag.
Steeds is jy hier, by my, rondom my
met jou muskus wat my penetreer,
wetend dat jy jou verslawing voed
met die wyn in my lyf
met my borste wat soos swanebrood
vlok teen jou -
en jy wat nog beskonke poog
om jou naam in skaduwees te skans.
Sou ek moes boet vir hierdie skimmel daad ?
Laat dit dan so wees.
Laat die uile en valke van die nag
dan nou my stom getuies wees.
© 2012 Almarie Truter