Laasnag het jy vir my
'n bed gemaak onder die maan.
'n Geel mot het geflapper teen
die straatlamp se glas,
jy het meedoënloos vir my
'n bed onder die maan ingepas.
Dit was net ek en jy.
Die maan het gestu tot teen ons enkels
en 'n sagte reën het begin neerdaal
binne my,
net ek en jy en 'n geswelde maan.
Wit het weerkaats teen jou ribbekas
en ek wou stuk stuk my woorde
teen jou lyf inpas
maar jy het geweet van die maan en my.
Jy het my gebaai onder
'n volroom maan.
Jy was (na almal)
die een wat verstaan.
© 2012 Almarie Truter