FreeStyle

Would you like to react to this message? Create an account in a few clicks or log in to continue.

    Rooitee en heuning

    AmmieMoon
    AmmieMoon


    Location | Ligging : Saldanhabaai
    Posts | Bydraes : 413
    Points | Punte : 689
    Join date | Datum aangesluit : 2011-08-28
    Age | Ouderdom : 25

    Rooitee en heuning Empty Rooitee en heuning

    Post by AmmieMoon Sat 03 Sep 2011, 3:32 pm

    dag het immergroen gebloei toe ek 'n lemoenboom,
    (wortel en al) in my hart herplant en oranje vrugte
    begin uitdeel het aan snotneus kindertjies langs die pad

    hulle oopbek-lag was skriller as die baldadige strale
    van 'n buite seisoen son, en as ek kon, sou ek
    hulle skurwe voetjies en handjies in sitrusblaar
    bewaar het, tot ek hulle tuis brosig kon oopvou
    en as genadestukkies tussen my bybel se blaaie kon bêre

    somer in die middel van winter is immers onverdiend
    en 'n hart se spens gans te knap om die geur van klein vreugdes
    te bottel en preserveer

    die dam se sluise het fonteine van lewende water geproes,
    slingerswaai gevleg deur rooibos en bloospienk heide
    tot waar dit geswymel-kwyn het langs smal heupe
    van 'n fynbos kloof

    vanaand se moeg is anders, want ek ruik nog lemoene
    aan my hande en proe vanielje se louwarm asem in
    voorslaap gedagtes -
    hier onder 'n lappieskombers op 'n lendelam bedjie
    in die songeel gastekamer van Namakwaland.



    © 2011 Almarie Truter.

      Current date/time is Thu 28 Mar 2024, 11:00 pm