jy blou
teen my
waar jy presies vandaan gekom het
weet ek nou nog nie -
'n uil in die sipres het gebuik 'hoe' 'hoe'
en ek het by myself gedink
' ek het geen fokken clue nie '
skemer was bleker as voorheen
en ou sonstrepe het nog vaagweg
teen die horison geteem
die maan het haarself moeisaam
teen my einders opgehys
so asof sy jou koms wou verkondig,
jou witskrif teen my naghemel wou wys
naïef het ek koffie vir een
in my polka dot beker voorberei,
onbewus van jou groue en bloue wat
(tussen fyn gekerfde lagplooitjies)
wag op my
vanaand staan ek
met 'n gepoleerde glashout hart in my hand
en tooi my hare en lyf met die hemel,
met water, met lelies en met jou
want nou blou jy
teen my.
© 2012 Almarie Truter