Met ‘n tarrentaalveer
en ‘n potjie ink
skryf ek vir jou hart.
My woorde is lomp
en vêr van die grasieuse flamink,
maar dit dra géén smart.
Gespikkel soos die veer
is my verlange in die sterrenag,
my heimwee vir jou prag.
Die wind sing
en die ganse dans,
maar leeg is my gesprekke saans.
In die vroë môre
verlig die son, effens
maar my hart-land bly maar ‘n dorre...
Die gebarsde grond wag
vir jou lag-trane, sag
om te voed en te streel.
Met ‘n tarrentaalveer
en ‘n potjie ink
skryf ek vir jou hart.
Is dit ‘n lied
wat verlos van verdriet,
of ‘n harmonie-lose gekreun
wat in jou atriums dreun?
Voel jy die ritme
in my pen se dans,
of raak jy duiselig
of selfs angstig?
My palms mis jou sagtheid
my neus, jou reuk
my lippe, ag hulle het al byna
vergeet hoe jy proe!
Of het hulle ooit regtig geweet?
Die Piet-my-vrou smeek om vog
hoor jy sy stilte?
Die grond lê op sy doodsbed
kom genees hom met jou lag-trane.
Met ‘n tarrentaalveer
en ‘n potjie ink
skryf ek vir jou hart
vir jou aorta, ‘n ballade.
©G. Hermens, 03-01-2012.