paaie kwyn tot waaiers
en lugspieëlings word spoke wat bewe
onder 'n stilstaande son,
elke afdraai bloot 'n klein-begin
met gevurkte keuses tussenin -
ek wens ek kon vergeet
ek wens ek wens ek kon;
veldvaal meng met plat geweefde wolke,
mikro flertse teen die hemel
daar waar sleurgang swerwers wemel,
keuses wat meer vra as jou vae teue
wat nog stoomdig teen my boesem skuil;
'n stofkwas vee spore oor die langpad,
bedelry teen rûens en skuinstes,
na waar aankoms 'n begin sonder naam is,
net nog 'n koelteboom en bank waar ek stop
om my honger te stil,
waar ek skreef om jou buitelyn op die horison te sluk -
tog
my eindbestemming het verander.
© 2011 Almarie Truter