sout bly sout
dit winddroog minute
ure
dae
weke
maande
selfs jare soos bokkoms in 'n bos
(ek het jou laat los)
gestring met 'n onmiskenbare palet
wat binnemonds kleef aan die verhemelte,
die hart;
hierdie jaar is skaars 'n paar dae oud
en dit plak reeds pekelrig teen my wang,
'n dynserige voorskou
waaraan laasjaar reste hang;
jy sal nooit deursigtig genoeg wees om nie
'n skaduwee te gooi teen my platgetrapte duine nie
(jy wat praat sonder woorde,
wat swyg deur jou oë)
ek faal om my lus
na jou stiltes te pen,
die ewige dors na jou asem,
jou dartelende tong
na jou hande wat seeroetes lyn
teen my groeiende tepels,
wat 'n onweersdag uit my borskas kan forseer
tot ek skuimig vlek
tussen slinger-bamboes en rots;
ek het jou laat los
lankal al
maar elke springgety vind ek nog
wrakstukke van ons
uitgespoel teen oorskot hoogtes,
ek het jou laat los
ek het
ek het jou laat los.
© 2011 Almarie Truter
- Attachments
- 033.JPG
- You don't have permission to download attachments.
- (4.4 Mb) Downloaded 0 times